Wednesday, September 8, 2010

‘n Vlam in die hare en ‘n vlam in die hart


MARY SLESSOR het 'n vurige humeur en vlamrooi hare gehad. Sy het grootgeword in die agterbuurtes van Dundee. Haar pa was 'n alkoholis en haar lewe was een van swaarkry en armoede. Maar die Here het reeds 'n plan gehad vir haar, om die kopbeenjagters van Calabar te bereik. Hulle was uiters bygelowig, en het in vuilheid en geweld gelewe. So, sonder dat sy dit besef het, het Mary 'n groot deel van haar lewe deurgebring in die oefenskool vir sending - en dit in die agterbuurtes van Dundee in die 1800's.

Baie sendelinge wat Calabar toe is, het weer teruggekeer huis toe - om nooit weer gesien te word nie. Maar Mary Slessor het 'n weg gebaan na juis daardie stamme, waarheen ander sendelinge gevrees het om te gaan. Sy was dapper, impulsief en het nie teruggedeins om te waag nie, en haar humeur was alombekend. Daar word gesê dat selfs hoofmanne lig geloop het as haar oë geflits het.

As jy ooit gewonder het oor wat jy kan doen, lees hierdie boek en besef dit gaan nie oor wat jy kan doen nie, maar oor wat die Here deur jou kan doen... en Hy kan enige iets doen.

EKSTRAS 
Om verder oor na te dink * Tydlyn

Monday, September 6, 2010

Van Wallis tot Westminster

“Vuur, vuur!” - die benoude geskreu het deur die strate van ‘n klein Walliese dorpie weergalm. Bure het desperate pogings aangewend om brandblussers gereed te kry, terwyl die Lloyd-Jones gesin vas aan die slaap was, salig onbewus daarvan dat hulle huis besig was om af te brand. Martyn, wat maar tien jaar oud was, was snoesig warm in sy bed, maar sy lewe was in gevaar.

Wat het van Martyn geword? Hoe het die vuur hom en sy gesin geraak? Het alles op die ou end maar weer reggekom? Christopher Catherwood vertel van die verbasende lewe van sy oupa wat ‘n dokter geword het toe hy slegs sestien was. Hy was buitengewoon begaafd en sou die Koningin se huisdokter geword het. Maar hy het alles vaarwel toegeroep om vir die Here te gaan werk. In hierdie boek sal jy uitvind wat die rede was.

Martyn Lloyd-Jones was geesdriftig en aan die brand vir die Here.

As jy hierdie boek klaar gelees het, sal jy ook wees.

Sluit ook in: Om oor na te dink

Wednesday, September 1, 2010

Tien dogters wat met hulle talente gewoeker het

Wat kan jy vir die Here doen?
Hierdie tien dogters het grootgeword om suksesvolle vroue te wees. Die twee dinge wat hulle in gemeen gehad het, was dat hulle veral gebruik gemaak het van die gawes en talente wat hulle gehad het, en dat hulle geglo het dat die Here dit vir hulle gegee het om te gebruik.

Helen het haar vaardighede as dokter gebruik om die waarheid van die Here Jesus na Afrika toe te bring; Maureen het geleer om ‘n bus te bestuur en hawelose mense versorg; Annie het haar tegniese kennis gebruik om vliegtuie in die lug te hou; Harriet het ‘n boek geskryf wat die samelewing verander het; Sarah het haar man in staat gestel om ‘n volk te verander; Selina se invloed en wysheid het mense wat vervolg is, gehelp en die kerk bewaar; Mildred het haar avontuurgees gebruik om die Here se Woord te versprei; Katie Ann se deernis het die lewens van babatjies gespaar; Patricia het christelike stories vir baie kinders geskryf en Mary het bewys dat gestremdheid nie ‘n hindernis is om na ander om te sien nie.


  • Helen Roseveare
  • Maureen McKenna
  • Annie Lawson
  • Harriet Beecher Stowe
  • Sarah Edwards
  • Selina, Hertogin van Huntingdon
  • Mildred Cable
  • Katie Ann Mackinnon
  • Patricia St John
  • Mary Verghese