Monday, May 23, 2011

Van Swaard na Skaar...


Hierdie verhaal  is gebaseer op die lang en geseënde lewe van Robert Hart [1777-1867] stamvader van die Harts van Skotse afkoms in Suidelike-Afrika.
            Hoewel detail-inligting meestal ontbreek, blyk dit dat hy persoonlik bekend en selfs bevriend was met Louis Tregardt (Trichardt), Lord Charles Somerset, Piet Retief, met wie hy ook in 'n hofsaak betrokke was,  Andries Pretorius - die held van Bloedrivier, sir Rufane Donkin wat as waarnemende goewerneur aan hom 'n plaas toeken vir sy diens aan die Setlaars, Andrew Murray saam met wie sy kleinseuns uit Skotland  terugkeer, die digter Thomas Pringle, Henry Meurant, moontlik verskeie Xhosaleiers en verder ook nog Andries Stockenstrom.  Almal persone en karakters wat op een of ander manier deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis onthou word.  Robert se lewe self is egter nêrens deel van die opgetekende geskiedenis nie.
            Desondanks het hierdie persoon diep spore in die wording van 'n beskaafde, godvresende en geordende (vir sover dit reeds bereik is) gemeenskap getrap. Hoewel meestal net onder die radar van openbare aansien, het hy die resep vir verantwoordelike bestaan, toe reeds geleef en word hy met reg 'as die vader van die 1820 Britse Setlaars' en as die 'eerste Engelssprekende Suid-Afrikaner' (John Bond: They were South Africans) beskou.
            Moeite is gedoen om die verhaal geloofwaardig te hou deur bekende feite en karaktereienskappe van Robert Hart so getrou moontlik weer te gee. Uit afskrifte van enkele persoonlike briewe, die getuienis van persone wat hom geken het en volgens eie aanvoeling, kon hy in bepaalde omstandighede kwalik anders opgetree het.