Friday, February 8, 2013

Agter Verre Horisonne - Johan van Coller


Hierdie familiesage van 'n Boeregesin, begin in 1898, voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog.  Dis 'n roerende- en boeiende verhaal van 'n egpaar met hul twee seuns en dogter, wat met deursettingsvermoë 'n nuwe begin met boerdery wil gaan maak na herhaalde droogtejare op hul dorre plaas in die verre Wes-Transvaal.  Met net 'n paar honderd pond, pak die gesin die epiese ossewatog aan na waar hulle verneem het die “Beloofde Land” geleë is; die verafgeleë Transvaalse Laeveld, naby die dorpie Nelspruit.  Daar bekom hulle 'n pragtige stuk vrugbare Staatsgrond, en begin met die opbou van hul droom vrugte- en veeplasie.  Wanneer die kapitaal opraak, trek die ondernemende broers met ossewa na die afgeleë jagvelde langs die Lebomboberge, om hopelik met 'n vrag waardevolle ivoor terug te keer. 
     Dan breek die Oorlog uit  en die broers, later ook hul pa, vertrek op kommando teen die gehate Kakies.  Ma en dogter red later op 'n heroïese manier die boerdery van totale uitwissing, wanneer die Britse soldate deur die distrik trek en verwoesting op die plase saai.  Geweef deur die storie, is daar 'n vurige romanse tussen die aantreklike oudste seun, Pieter, en die twee mooie meisies in sy lewe, Clarissa en Ansie.  Later in die Oorlog, red Pieter en sy korps onverskrokke burghers diè twee jong dames uit die onmenslike konsentrasiekamp en neem hulle na veiligheid.
     Net na die Oorlog in 1903, gaan die broers op 'n tweede olifantjagtog;  dis 'n halfjaar lange ekspedisie na die onherbergsame Rufijirivierdelta in Duits-Oos-Afrika.  Tydens hierdie grootse avontuur, bekom die broers 'n groot hoeveelheid ivoor, en dan maak die twee boonop 'n ongelooflike ontdekking in die wildernis wat die gesin eensklaps oppad na welvaart ophef.  Teen die einde is daar 'n dramatiese en onverwagte wending in die liefdesdriehoek tussen Pieter, Clarissa en Ansie.

No comments:

Post a Comment