Wednesday, November 9, 2011

En Jesus het gesê... - Prieur du Plessis

Die Mistieke Gesegdes van Jesus

Na Jesus se kruisiging het hy sy dissipel Thomas Juda na Indië gestuur om die boodskap van Die Weg daar te verkondig. In Indië het Thomas die eerste Kerk wat op Yesu se lering van Die Weg geskoei is tot stand gebring. Die Mistieke Gesegdes van Yesu, is ’n versameling esoteriese gesegdes wat vermoedelik voor 43 n.C. deur Thomas saamgetel is en is een van die Kerk van die Ooste se belangrikste geskrifte.  Thomas het in Indië ’n marteldood gesterf.

Die naam Die Mistieke Gesegdes van Yesu is afgelei uit die inleiding tot die geskrifte wat beweer: “Hierdie is die Mistieke Gesegdes wat die Lewende Yesu gespreek het, en wat Juda die Tweeling aangeteken het.”

Die Gesegdes is allegories geskryf en is deurspek met esoteriese simboliek. Om die gesegdes te verstaan moet dit gelees en vergelyk, oorweeg en beredeneer word. Slegs ’n vrydenker met ’n oop gemoed sal die verborge boodskappe kan ontrafel. Die skrywer gee ’n verduideliking van elkeen van die 114 gesegdes met verwysings na waar dit in die Christen Bybel en ander geskrifte voorkom.

’n Kopie van die gesegdes is in 1945 by Nag Hammadi in Egipte saam met ander kodekse ontdek. Die wetenskaplikes wat belas was met die vertaling van die dokumente het besluit om Die Mistieke Gesegdes van Yesu, Die Evangelie van Thomas te noem.

Prieur is ’n fotograaf van beroep en was vir etlike jare ‘n vryskut foto-joernalis. Vir twintig jaar was hy as fotograaf ‘n lid van die Lugmag, die Leer en die spesialemag se Verkenningskorps. Elf jaar gelede het hy en sy vrou Ingrid die bestuur van The House in Hillbrow oorgeneem. The House is ‘n plek van veiligheid vir huislose gemolesteerde jong meisies.

Hy het van jongs af in geestelike filosofie belang gestel. In die proses het hy bekend geraak met Die Kerk van die Weg wat deur die apostel Thomas na Jesus se kruisiging in Indië gevestig was. Hy is ‘n Berader van hierdie kerk en skryf boeke wat Die Weg van Jesus as tema het.

Ander boeke wat hy geskryf het is: “Jabo  die avonture van ‘n seun op Jesus se weg”, “Die Handeling van Jesus”, “Die onbekende agtien jaar uit Jesus se lewe”, “Jabo  the adventures of a boy on The Way of Jesus.”

Tans woon hy teen sy sin in Johannesburg saam met Ingrid en vier Weimaraners. Meer inligting oor Jesus se lering van Die Weg kan op die webwerf www.wayism.org gevind word.

No comments:

Post a Comment