Wednesday, November 9, 2011

SA Strafreg maklik gemaak - Brigadier C.P. Crafford

Brigadier Crafford is in Oranjemund, Namibië, gebore en het in verskeie dorpe van daardie mooi land grootgeword. Hy het by die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria gematrikuleer.

Sy loopbaan in die S.A. Polisie was kleurryk en veelsydig. Hy was betrokke onder andere by die Opleidingskollege te Pretoria, was stasie-bevelvoerder, Afdelingswerwings- offisier, het gedien by die Nasionale Inspektoraat en Interne Skakeling waar hy ook vir nege jaar die Redakteur van die polisietydskrif, Servamus, was. Tiaan Crafford het as bevelvoerder van Openbare Betrekkinge te Hoofkantoor uit die diens getree.

Sy liefde vir Strafreg het reeds vroeg in sy lewe begin. Terwyl hy buitemuurs met sy regstudies besig was, het hy dié vak aan studente vir regsmatriek aangebied en is reeds in 1968 by die Departement Nasionale Onderwys en Kultuur en die Departement Onderwys en Opleiding as nasiener aangestel.

Hy is getroud met Hesca. Die egpaar het drie kinders en sewe kleinkinders.  Sedert 1984, toe Tiaan as eksaminator aangestel is, is Hesca ’n steunpilaar met die jaarlikse eksamineringsprosesse. Tiaan dien tans ook as Interne Moderator vir Etnologie en Kriminologie (Graad 12).

Die afgelope jare het dit tydens eksaminering baie duidelik geword dat kandidate nie toegang tot studiemateriaal het nie of inligting bekom wat nie aan die leerplan voldoen nie. S.A. Strafreg Maklik Gemaak is ’n daadwerklike poging om na die kandidate uit te reik met studiehulp wat –
  • georden en opgesom,
  • leervriendelik en bekostigbaar is en
  • steeds aan die voorgeskrewe sillabus voldoen.

Strafreg maak vir ’n mens baie deure oop. In ’n land waar misdaad oral hoogty vier, het kennis van die vak in bykans elke beroep in die private en openbare sektore toepaslik geword. Dit is ook van persoonlike- en landsbelang vir elke burger wat wil help bou aan die toekoms van Suid-Afrika.

No comments:

Post a Comment