Friday, November 11, 2011

Voorwaarts Mars - Hanlie van Straaten

Vra my oor ʼn man soos oom Fred Geldenhuis en ek kan jou ʼn rits redes opnoem waarom hy ʼn legende in sy eie leeftyd geword het.
Oom Fred
- was alreeds ʼn jongeling in die SA Polisiedepot en seker een van die eerste minderjarige vrywilligers wat na die oorlogsfront vertrek het sonder ʼn amptelike toestemmingsbrief van sy vader;
- is die jongste regiment-sersant-majoor van die 2de Suid-Afrikaanse polisie-bataljon gedurende die tweede wêreldoorlog;
- het altesaam 5 keer ontsnap na hy deur die Duitsers by Tobruk gevange geneem is;
 -is deur senior offisiere genader om in hul ontsnappingsplanne te deel;
- breek deur vyandelike verdedigingslyne om die Amerikaanse magte te bereik ten einde voedsel, wapens, klere en komberse vir die Italiaanse burgerlikes en partisani’s te beding;
- word na ʼn blitskursus van 3 dae uit ʼn Amerikaanse Dakota in die nag met ʼn valskerm in die berge neergelaat. Dit wil gedoen wees!;
- as leier van die Toskaanse partisani’s aanvaar;
- word deur die moeder owerste van die katolieke kerk in Montorio Romano persoonlik in die Italiaanse taal onderrig;
- waag dit om met twee Duitse soldate in ʼn kroeg ʼn gesprek aan te knoop en vertolk sy rol as Italianer so uitstekend dat hulle ewe gemoedelik en niksvermoedend vir hom ʼn bier koop;
- tree tussenbeide toe ʼn Duitse soldaat ʼn arme vermoeide krygsgevangene hardhandig rondstamp; en
- word ʼn medalje vir aktiewe diens toegeken, weens sy ondergrondse bedrywighede in Italië.
So kan ek voortgaan met die lys om oom Fred Geldenhuis se uitstaande kenmerke te beskryf.
Daar was die keer in die westelike woestyn toe hy net een bottel water gehad het en dit onseker was wanneer hulle weer watervoorrade sou kry. Toe kom die Duitse krygsgevangenes en ten spyte van die kritiek deur ander soldate, gee hy ʼn pynpil en van die water uit sy eie bottel aan een van die krygsgevangenes.
In Moosburg, Duitsland, word Rooi Kruis- voorrade met ʼn bejaarde Duitse kampwag gedeel en ʼn beker warm kakao in die bittere koue na ʼn Duitse hekwag geneem. Toe die Amerikaners Stalalg VIIA oorneem, het oom Fred ewe doodluiters die bejaarde Duitse kampwag weggeroep daar waar hulle aangetree het om gevange geneem te word en het hom daardie aand veilig, saam met 3 sakke voedsel en seep by sy woonstel besorg.
Daar is min manne van oom Fred se kaliber! Fier en regop is hy ʼn rolmodel vir enige polisieman en soldaat! Sy rekrute onthou hom nog steeds met deernis
Ek het al baie biografieë gelees, maar hierdie is die eerste biografie van ʼn polisieman-soldaat, wat ek gelees het, wat deur ʼn dame geskryf is. Mej. Hanlie van Straaten bring ʼn nuwe perspektief na vore, iets wat net ʼn vrou sal raaksien: nl. die hunkering wat oom Fred gehad het na moederliefde wat hy nooit werklik ervaar het nie!
Oom Fred is tuis in die geselskap van koninklikes, generaals en manskappe. Hy was ʼn uitmuntende instrukteur, goeie polisieman en goeie soldaat – na die tweede wêreldoorlog, het hy na aftrede uit die SA polisiemag weer in diens getree by die SAW as rsm van Prince Alfred’s Guard waar hy ondermeer die Pro Patria vir grensdiens en die MMM in die SAW verwerf het.
 Genl. Jannie Geldenhuys merk eendag op dat oom Fred as brug gedien het tussen die ouer geslag soldate en die jonger geslag.
Oom Fred was ʼn goeie sportman en is lief vir mens en dier. Hy is ʼn gesellige kameraad, iemand wat met waardigheid sy drankie geniet! Hy is ʼn rolmodel, ʼn ware MAN, ʼn vriend, ʼn vader en kollega waarop nie net ek, maar talle ander lede van die verskillende magte ook besonder trots is!
Hennie Heymans
Brigadier: SA Polisiemag (afgetree)
15 Augustus 2011

No comments:

Post a Comment