Saturday, November 5, 2011

Dis Mos Kos - Joey Pienaar

Joey Pienaar van 'Knuppeldik aan Koningskos' en 'Watertand Wenners'- faam en samesteller van nog twee ander resepteboeke, het in Suid-Afrika 'n huishoudelike naam vir almal en oral geword. Plaaslik, en tot in die buiteland, word sy tereg in die media as 'Meesterbakster', 'Koskampioen', en 'Koningin van Resepte' beskryf.
Dit is noemenswaardig dat honderde duisende van genoemde resepteboeke met 'beproefde staatmakers' tydens verdienstelike fondsinsamelings, reeds die kombuise van kosliefhebbers bereik het en steeds van krag tot krag gaan.
Dis Mos Kos is 'n praguitgawe wat die kroon span oor Joey se jarelange passie om unieke en eg Suid-Afrikaanse, asook beproefde treffers wat maklik deur ieder en elk gemaak kan word, vir kosmakers aan te bied.
Dis Mos Kos is 'n geskenkpak spesiaal vir jou, maar ook 'n ideale geskenk vir 'n gewaardeerde vriendin of familielid asook tydens verjaardae, troues, Kersfees, Moedersdag en enige ander geleentheid.
Joey se kosloopbaan het reeds as 12-jarige in haar ouerhuis begin. Nadat sy vir drie agtereenvolgende jare al die pryse vir gebak van die Vroue Landbou Unie (VLU) by die Pretoria Skou verower het, bekwaam sy haar in 1983 as beoordelaar. Ook op dié vlak druk sy steeds haar stempel van kundigheid met liefde af. Haar hele lewe getuig van offervaardigheid en diens aan die gemeenskap. Waar sy ookal leiding neem, maak sy 'n verskil. Sy was vir drie jaar die voorsitter van die Pretoria Polisie Offisiersvroueklub asook in bestuursposte van verskeie ander organisasies, onder andere die VLU-tak te Modimolle waar sy saam met haar man, Hennie, ('n afgetrede brigadier van die SAPD) 'n formidabile span uitmaak. Die egpaar se trots is hul vier kinders en nege kleinkinders.
In 2010 het die eer haar te beurt geval om as die VLU-Noord se Skrywer van die Jaar aangewys te word 'n sprekende bewys van wat ons in Dis Mos Kos kan verwag.
Saam met die Christelike aanhalings en lewenswaarhede op elke bladsy, gaan hierdie resepteboek voorwaar 'n fees wees en 'n juweel in elke kombuis.

No comments:

Post a Comment