Tuesday, November 29, 2011

Die Boek Openbaring - Dr. Hennie Prinsloo

Die boek Openbaring is `n uiters belangrike geskrif omdat dit die laaste Heilige Gees geïnspireerde Bybelboek is wat geskryf is. Dit is daarom ook korrek geplaas as die laaste boek in die Bybel.  Soos wat die vier Evangelies die Nuwe Testament open met die goeie nuus van die eerste koms van Christus, so beëindig Openbaring die Nuwe Testament met die algemene tema van Christus se wederkoms.

Die naam “Openbaring” beteken: “om 'n sluier weg te neem”.  Die boek is 'n ontsluiering, 'n bekendmaking, 'n openbaarmaking.  Wanneer 'n standbeeld onthul word, word die sluier of doek op 'n gegewe oomblik van die standbeeld afgetrek, dit word ontsluier, onthul, sodat die standbeeld vir almal duidelik en sigbaar kan wees. 

So het die Here God in die jaar 95 n.C. die sluier vir Johannes weggetrek en die toekomsgebeure aan hom openbaar.  God se toekomsplan met die mensdom en die wêreld het nou aan almal duidelik geword.  Dit dek gebeure wat sou plaasvind vanaf die eerste eeu n.C., vanaf die Kerkdispensasie tot en met die Voleinding

Die Wederkoms van Christus en die Eindgebeure

Die Wederkoms van Christus en die Eindgebeure
Daar is min dinge so opwindend soos 'n studie van Bybelse profesieë, want dit vertel die geskiedenis vooruit.  Bybelse profesieë wys vir ons waarheen die wêreld en sy mense oppad is. Dit toon aan wat in die toekoms moet gebeur.  Die koerant vertel jou wat gister gebeur het, die TV vertel jou wat vandag gebeur het, maar, Bybelse profesieë vertel jou wat môre en oormôre en in die toekoms sal plaasvind. 
Dr. Jerry Falwel defineer Bybelse profesieë soos volg: “Bybelse profesieë is God se plan met die wêreld en sy mense vir die toekoms.”
Die Bybel is 'n boek vol profesieë.  Uit die 8,325 profetiese tekste in die Bybel is daar 1,800 tekste wat net oor die wederkoms van Christus en aanverwante eskatologiese gebeure handel. Dit beteken dat 22% van al die Bybel se profetiese tekste net oor die wederkoms van Christus handel. Net in die Nuwe Testament alleen is daar 318 profesieë wat direk na die wederkoms van Christus verwys.
Die wêreld staan voor 'n groot en drastiese gebeurtenis  'n gebeurtenis wat 'n invloed op elke mens op aarde se lewe sal hê en die gewone gang van sake in die wêreld ingrypend sal verander. Dié gebeurtenis is die persoonlike wederkoms van Jesus Christus na hierdie wêreld!

Die lang Generaal - Alan D Elsdon

Generaal Lang Hendrik van den Bergh, oud-hoof van die Veiligheidspolisie en latere hoof van die destydse BOSS, was vir baie die mees gevreesde man in die ou Suid-Afrika. Hy was briljant - selfs internasionaal was hy 'n gerekende figuur onder Koue Oorlog-spioene. Tuis het hy 'n skrikbewind gevoer en hierdie boek, deur 'n oud-veiligheidspolisieman, verbind hom met verskeie opspraakwekkende moorde waarom daar vandag nog raaisels hang. Dit sluit in:
  • Die sluipmoord op dr  HF Verwoerd
  • Die dood van staatspresident Nic Diederichs
  • Die dood van Steve Biko
  • Die sluipmoord op Anton Lubowski
  • Die sluipmoord op die NG- teoloog, professor Johan Heyns.
Een van die tergendste moorde waarmee generaal Van den Bergh in hierdie publikasie verbind word, is die moord op die NP-kandidaat dr Robert Smit en sy vrou in 1977. Die skrywer verskaf 'n fassinerende, maar terselfdertyd 'n gesaghebbende verklaring van die geheimsinnige woorde “RAU TEM” wat destyds op die moordtoneel gespuitverf is.
  • “Skok-onthullings in fusie van waarheid en fiksie.”    Rapport
  • “Hierdie is 'n politieke riller soos min.”    Ockie Geyser (emeritus-professor Departement Geskiedenis, UOVS)
  • “Dit is 'n boek wat ek nie kon neersit nie.”    Francoise Steynberg (Republikein)
Alan D Elsdon het hom in 1973 by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit waar hy in verskeie hoedanighede gedien het. In 1978 word hy kriptograaf in die Veiligheidstak en tree op as die sleutelgetuie in Bisho se eerste ANC “Terroriste-”verhoor wat tot skuldigbevindings lei. In 1993 verlaat hy die polisie om 'n loopbaan in die sekuriteitsveld voort te sit. Hy het in 2008 uit die DRK teruggekeer waar hy in sy beroepsveld in die hart van die oerwoud  by 'n diamantmyn betrokke was.

Also available in English as The Tall Assassin.
Lees ook My Cryptic Life deur Donald Els Alanby.

Friday, November 11, 2011

Voorwaarts Mars - Hanlie van Straaten

Vra my oor ʼn man soos oom Fred Geldenhuis en ek kan jou ʼn rits redes opnoem waarom hy ʼn legende in sy eie leeftyd geword het.
Oom Fred
- was alreeds ʼn jongeling in die SA Polisiedepot en seker een van die eerste minderjarige vrywilligers wat na die oorlogsfront vertrek het sonder ʼn amptelike toestemmingsbrief van sy vader;
- is die jongste regiment-sersant-majoor van die 2de Suid-Afrikaanse polisie-bataljon gedurende die tweede wêreldoorlog;
- het altesaam 5 keer ontsnap na hy deur die Duitsers by Tobruk gevange geneem is;
 -is deur senior offisiere genader om in hul ontsnappingsplanne te deel;
- breek deur vyandelike verdedigingslyne om die Amerikaanse magte te bereik ten einde voedsel, wapens, klere en komberse vir die Italiaanse burgerlikes en partisani’s te beding;
- word na ʼn blitskursus van 3 dae uit ʼn Amerikaanse Dakota in die nag met ʼn valskerm in die berge neergelaat. Dit wil gedoen wees!;
- as leier van die Toskaanse partisani’s aanvaar;
- word deur die moeder owerste van die katolieke kerk in Montorio Romano persoonlik in die Italiaanse taal onderrig;
- waag dit om met twee Duitse soldate in ʼn kroeg ʼn gesprek aan te knoop en vertolk sy rol as Italianer so uitstekend dat hulle ewe gemoedelik en niksvermoedend vir hom ʼn bier koop;
- tree tussenbeide toe ʼn Duitse soldaat ʼn arme vermoeide krygsgevangene hardhandig rondstamp; en
- word ʼn medalje vir aktiewe diens toegeken, weens sy ondergrondse bedrywighede in Italië.
So kan ek voortgaan met die lys om oom Fred Geldenhuis se uitstaande kenmerke te beskryf.
Daar was die keer in die westelike woestyn toe hy net een bottel water gehad het en dit onseker was wanneer hulle weer watervoorrade sou kry. Toe kom die Duitse krygsgevangenes en ten spyte van die kritiek deur ander soldate, gee hy ʼn pynpil en van die water uit sy eie bottel aan een van die krygsgevangenes.
In Moosburg, Duitsland, word Rooi Kruis- voorrade met ʼn bejaarde Duitse kampwag gedeel en ʼn beker warm kakao in die bittere koue na ʼn Duitse hekwag geneem. Toe die Amerikaners Stalalg VIIA oorneem, het oom Fred ewe doodluiters die bejaarde Duitse kampwag weggeroep daar waar hulle aangetree het om gevange geneem te word en het hom daardie aand veilig, saam met 3 sakke voedsel en seep by sy woonstel besorg.
Daar is min manne van oom Fred se kaliber! Fier en regop is hy ʼn rolmodel vir enige polisieman en soldaat! Sy rekrute onthou hom nog steeds met deernis
Ek het al baie biografieë gelees, maar hierdie is die eerste biografie van ʼn polisieman-soldaat, wat ek gelees het, wat deur ʼn dame geskryf is. Mej. Hanlie van Straaten bring ʼn nuwe perspektief na vore, iets wat net ʼn vrou sal raaksien: nl. die hunkering wat oom Fred gehad het na moederliefde wat hy nooit werklik ervaar het nie!
Oom Fred is tuis in die geselskap van koninklikes, generaals en manskappe. Hy was ʼn uitmuntende instrukteur, goeie polisieman en goeie soldaat – na die tweede wêreldoorlog, het hy na aftrede uit die SA polisiemag weer in diens getree by die SAW as rsm van Prince Alfred’s Guard waar hy ondermeer die Pro Patria vir grensdiens en die MMM in die SAW verwerf het.
 Genl. Jannie Geldenhuys merk eendag op dat oom Fred as brug gedien het tussen die ouer geslag soldate en die jonger geslag.
Oom Fred was ʼn goeie sportman en is lief vir mens en dier. Hy is ʼn gesellige kameraad, iemand wat met waardigheid sy drankie geniet! Hy is ʼn rolmodel, ʼn ware MAN, ʼn vriend, ʼn vader en kollega waarop nie net ek, maar talle ander lede van die verskillende magte ook besonder trots is!
Hennie Heymans
Brigadier: SA Polisiemag (afgetree)
15 Augustus 2011

Daisies & Dumplings, Barberton - Annette en Riana

Met die samestelling van 89 resepte uit ons vallei se kombuise, nooi ons besoekers in, om hulle tuis te maak, aan te sit, in ons dorp Barberton. Breek 'n broodjie saam met ons en luister na ons stories en ryk geskiedenis. Ons wens is dat die soet van die souskluitjies en die sout van die boerewors 'n wonderlike smaak in die mond sal los wat julle laat terugverlang na ons op- en afdraandes. Van ons resepte se eienaars het ons al verlaat, maar ons groet hulle in hierdie versameling, tot later...

Springbok Rugby Captains 1891-2010 - Derick Spies

This is not, once again, another book of statistics on some of South Africa’s Rugby players.
This book is all about the players who had the honour to have captained the Springbok test side against 23 Rugby Playing Nations from 1891 to 2010.
It contains not only new researched data and statistics, but also reveals fascinating information about the person we admired as captain of South Africa’s Springbok Rugby Team.
This makes the book interesting and enjoyable to read for any sports lover.

Wednesday, November 9, 2011

Charles Spurgeon. Die Prins van die Predikers - Christian Timothy George


Charles Spurgeon was 'n eenvoudige plattelandse seun, wat as een van die mees gevierde predikers ooit, bekendheid verwerf het in Londen, Europa en die wêreld.

Toe hy in 'n sneeustorm vasgevang was, het hy by die agterste bank van 'n klein stowwerige, plattelandse kerkie ingesluip. Hy het nie 'n benul daarvan gehad dat, terwyl hy die yskoue temperatuur buite ontvlug het, hy voor die belangrikste besluit van sy hele lewe te staan sou kom nie.

'n Verrimpelde ou man het begin preek… Charles het 'n behoorlik vervelige diens verwag - maar met die woorde, “Kyk op na Jesus en word gered!” het 'n koue, knorrige tiener begin besef dat die Here se Woord 'n mens totaal kan verander!

Die eenvoudige plattelandse knaap het 'n man geword wat met prinse en bedelaars omgegaan het. Hy het woorde gespreek wat die harte van rykes en armes aangeraak het. Sy faam het so ver gereik dat dit vertel word dat selfs Koningin Victoria een van sy dienste bygewoon het. Het die Koningin van Engeland na die Prins van die Predikers gaan luister? Charles het meer omgegee vir die Koning van die konings - Jesus Christus.

Christian Timothy George is 'n skrywer en prediker wat hou van kuns, reis en voetbal. Hy en sy vrou, Rebecca, woon in Birmingham, Alabama, VSA, waar hulle seminarium studente is by Beeson Divinity School. Christian bewonder Charles Spurgeon sy lewe lank.

Jabo. Die avonture van 'n seun op Jesus se weg - Prieur du Plessis

Die verhaal handel oor die avonture van Jabo, ʼn jong seun wat saam met ʼn groep vroue wat bekend was as die Magadhalene, Yesu op sy reise deur Judea gevolg het. Die verhaal is fiktief, maar die geestelike lesse wat Jabo in sy avonture beleef is esoteriese waarhede.

Die verwysings na Yesu en Mari se wedervaringe in Indië, Tibet en Kasjmir, kom uit die geskrifte van ʼn Kerk wat na Yesu se opstanding deur die Apostel Thomas in Indië gevestig was. Die kerk bestaan vandag nog.

As u Jabo se avonture volg gaan u kennis maak met geestelike waarhede wat vir meeste Christene vreemd is. Vir vrydenkende lesers wat ʼn oop gemoed het sal die geestelike lesse in hierdie verhaal ʼn openbaring wees. Fundamentalistiese Christene mag die verhaal steurend vind.

Oor die skrywer
Prieur is ‘n fotograaf en foto-joernalis van beroep. As sulks was hy ondermeer vir twintig jaar verbonde aan die Lugmag, die Leer en die Spesialemag se Verkenningskorps. Elf jaar gelede het hy en sy vrou Ingrid die bestuur van The House in Hillbrow, ‘n plek van veiligheid vir huislose gemolesteerde jong meisies, oorgeneem. 

Hy het van jongs af in geestelike filosofie belang gestel. In die proses het hy bekend geraak met Die Kerk van die Weg wat deur die apostel Thomas na Jesus se kruisiging in Indië gevestig was. Hy is ‘n Berader en verteenwoordig hierdie kerk in Suid-Afrika. Sy boeke het Die Weg van Jesus as tema. 

Boeke wat hy geskryf het is: 'Jabo die avonture van 'n seun op Jesus se weg', 'En Jesus het gesê ... die verborge gesegdes van Jesus', 'Die Handeling van Jesus - die onbekende agtien jaar uit Jesus se lewe', en 'Jabo - the adventures of a boy on The Way of Jesus.' 

Tans woon hy teen sy sin in Johannesburg, saam met Ingrid en vier Weimaraners.
Meer inligting oor Jesus se lering van Die Weg kan op die webwerf www.wayism.org gevind word.

Die Handelinge van Jesus - Prieur du Plessis

Van geboorte tot kruisiging. Sy agtien verlore jare onthul.

Wat weet ons werklik van Jesus? Dit blyk dat die Christengeloof geskoei is op slegs drie jaar van Jesus se lewe, die drie jaar in Palestina voor sy kruisdood. Die dokument wat hier vertaal word vertel 'n heel ander storie. Dit is die lewensverhaal van Jesus en maak ons bekend met die agtien jaar van sy lewe waarvan die Sinoptiese Evangelies nie melding maak nie. Die oorspronklike dokument is om en by 47nC geskryf en word genoem, 'Die Handelinge van Yesu, ons Verlosser en Heer,'

Jesus het van sy veertiende tot sy twee-en-dertigste jaar deur Indië en ander Oosterse lande gereis. Waar hy hom bevind het, het hy die plaaslike geestelike filosofieë bemeester. Hy was geneig om die wanpraktyke van die Priesters wat hul volgelinge vir eie gewin uitgebuit het, aan die kaak te stel, gevolglik het die gemeenskap hom respekteer maar die Priestersorde het hom gehaat, net soos wat later in Palestina die geval was.

Prieur vertaal die dokument en gee verduidelikings waar hy glo dat dit nodig mag wees. Wees ‘n vrydenker, hou 'n oop gemoed en wees gereed om Jesus, soos wat u hom ken, in 'n ander lig te sien.

Godgegewe Genade - Weila-Marié Strydom

Ervaar die soetheid van God se Genade - 366 Dagstukkies

Weila-Marié is 'n nuwe, maar baie belowende skryfster op die Suid-Afrikaanse toneel.  Sy is predikantsvrou,  maar staan ook voltyds in haar eie professie as optometris.  Weila het drie jong kinders en ken behoorlik die lewensuitdagings van die meeste moderne vroue, naamlik om 'n 'goeie' ma, suksesvolle beroepsvrou en raakvat eggenoot te wees.  Daarom die vrug van haar pen en veral haar hart wat tot doel het om kalmte, rigting en wysheid in 'n warboelwêreld te bring.  Weila woon tans in Nelspruit en tree ook gereeld as spreker en kursusleier op.

Godgegewe genade is ʼn dagboek waarin Weila-Marie slaag om deur alledaagse voorbeelde God se veelkleurige genade nuut en vars aan elke leser oor te dra. Sy deel van haar persoonlike ervarings as ma en beroepsvrou in hierdie dagstukkies, soms op humoristiese wyse en ander kere vanuit haar worstelinge met die lewe. Hierdie sal vir elke leser, jonk en oud, enkellopend sowel as paartjies wonderlike pitkos vir elke dag wees. Hierdie dagboek laat jou God se veelkleurige genade elke dag ervaar te midde van ʼn uitdagende lewe.

En Jesus het gesê... - Prieur du Plessis

Die Mistieke Gesegdes van Jesus

Na Jesus se kruisiging het hy sy dissipel Thomas Juda na Indië gestuur om die boodskap van Die Weg daar te verkondig. In Indië het Thomas die eerste Kerk wat op Yesu se lering van Die Weg geskoei is tot stand gebring. Die Mistieke Gesegdes van Yesu, is ’n versameling esoteriese gesegdes wat vermoedelik voor 43 n.C. deur Thomas saamgetel is en is een van die Kerk van die Ooste se belangrikste geskrifte.  Thomas het in Indië ’n marteldood gesterf.

Die naam Die Mistieke Gesegdes van Yesu is afgelei uit die inleiding tot die geskrifte wat beweer: “Hierdie is die Mistieke Gesegdes wat die Lewende Yesu gespreek het, en wat Juda die Tweeling aangeteken het.”

Die Gesegdes is allegories geskryf en is deurspek met esoteriese simboliek. Om die gesegdes te verstaan moet dit gelees en vergelyk, oorweeg en beredeneer word. Slegs ’n vrydenker met ’n oop gemoed sal die verborge boodskappe kan ontrafel. Die skrywer gee ’n verduideliking van elkeen van die 114 gesegdes met verwysings na waar dit in die Christen Bybel en ander geskrifte voorkom.

’n Kopie van die gesegdes is in 1945 by Nag Hammadi in Egipte saam met ander kodekse ontdek. Die wetenskaplikes wat belas was met die vertaling van die dokumente het besluit om Die Mistieke Gesegdes van Yesu, Die Evangelie van Thomas te noem.

Prieur is ’n fotograaf van beroep en was vir etlike jare ‘n vryskut foto-joernalis. Vir twintig jaar was hy as fotograaf ‘n lid van die Lugmag, die Leer en die spesialemag se Verkenningskorps. Elf jaar gelede het hy en sy vrou Ingrid die bestuur van The House in Hillbrow oorgeneem. The House is ‘n plek van veiligheid vir huislose gemolesteerde jong meisies.

Hy het van jongs af in geestelike filosofie belang gestel. In die proses het hy bekend geraak met Die Kerk van die Weg wat deur die apostel Thomas na Jesus se kruisiging in Indië gevestig was. Hy is ‘n Berader van hierdie kerk en skryf boeke wat Die Weg van Jesus as tema het.

Ander boeke wat hy geskryf het is: “Jabo  die avonture van ‘n seun op Jesus se weg”, “Die Handeling van Jesus”, “Die onbekende agtien jaar uit Jesus se lewe”, “Jabo  the adventures of a boy on The Way of Jesus.”

Tans woon hy teen sy sin in Johannesburg saam met Ingrid en vier Weimaraners. Meer inligting oor Jesus se lering van Die Weg kan op die webwerf www.wayism.org gevind word.

SA Strafreg maklik gemaak - Brigadier C.P. Crafford

Brigadier Crafford is in Oranjemund, Namibië, gebore en het in verskeie dorpe van daardie mooi land grootgeword. Hy het by die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria gematrikuleer.

Sy loopbaan in die S.A. Polisie was kleurryk en veelsydig. Hy was betrokke onder andere by die Opleidingskollege te Pretoria, was stasie-bevelvoerder, Afdelingswerwings- offisier, het gedien by die Nasionale Inspektoraat en Interne Skakeling waar hy ook vir nege jaar die Redakteur van die polisietydskrif, Servamus, was. Tiaan Crafford het as bevelvoerder van Openbare Betrekkinge te Hoofkantoor uit die diens getree.

Sy liefde vir Strafreg het reeds vroeg in sy lewe begin. Terwyl hy buitemuurs met sy regstudies besig was, het hy dié vak aan studente vir regsmatriek aangebied en is reeds in 1968 by die Departement Nasionale Onderwys en Kultuur en die Departement Onderwys en Opleiding as nasiener aangestel.

Hy is getroud met Hesca. Die egpaar het drie kinders en sewe kleinkinders.  Sedert 1984, toe Tiaan as eksaminator aangestel is, is Hesca ’n steunpilaar met die jaarlikse eksamineringsprosesse. Tiaan dien tans ook as Interne Moderator vir Etnologie en Kriminologie (Graad 12).

Die afgelope jare het dit tydens eksaminering baie duidelik geword dat kandidate nie toegang tot studiemateriaal het nie of inligting bekom wat nie aan die leerplan voldoen nie. S.A. Strafreg Maklik Gemaak is ’n daadwerklike poging om na die kandidate uit te reik met studiehulp wat –
  • georden en opgesom,
  • leervriendelik en bekostigbaar is en
  • steeds aan die voorgeskrewe sillabus voldoen.

Strafreg maak vir ’n mens baie deure oop. In ’n land waar misdaad oral hoogty vier, het kennis van die vak in bykans elke beroep in die private en openbare sektore toepaslik geword. Dit is ook van persoonlike- en landsbelang vir elke burger wat wil help bou aan die toekoms van Suid-Afrika.

SA Criminal Law made easy - Brigadier C.P. Crafford

Brigadier Tiaan Crafford was born in Oranjemund, Namibia, and grew up in different small towns of that beautiful country. He matriculated at Oos-Moot High School, Pretoria.

Tiaan had a colourful and versatile career in the S.A. Police. He was involved, amongst others, at the Training College in Pretoria, was Station Commander, Divisional Recruiting Officer, served at the National Inspectorate and Internal Liaison where he served as Editor of the Police Magazine, Servamus, for nine years. Tiaan Crafford retired from the Police Force as commander of Public Relations.

His love for S.A. Criminal Law started early in his career. While studying Law extramurally he tutored this subject to students preparing for the matric exams. As early as 1968 he was appointed by the Department of Education and Culture as well as the Department of Education and Training as marker of the exam papers.

He is married to Hesca. They have three children and seven grandchildren. Since 1984 when Tiaan was appointed Examiner of S.A. Criminal Law, Hesca has been his tower of strength with the yearly examining process. At present Tiaan is also appointed as Internal Moderator for Ethnology as well as Criminology (Grade 12)

During the past few years of examining it became evident that candidates don't have access to study material or that they have information to their disposal that doesn't comply with the curriculum.  S.A. Crimanal Law Made Easy, is a dedicated effort to reach out to candidates with a study aid that is –
  • summarised and arranged for easy learning
  • learner friendly and affordable and
  • still complies with the prescribed syllabus

S.A. Criminal Law provides many opportunities for a person's future. In a country where crime reigns supreme, knowledge of this subject has become appropriate for almost every career in the private and public sectors. This subject is also of personal- and public interest for every citizen that wants to be part of a brighter future for South Africa.

Spieël - Gedigte deur Izak A Coetzee

Moira - Izak A Coetzee

Hy staan op, maar sy dwing hom terug op die bankie.

“Moenie so ontwykend wees nie. Antwoord my eers. Weet jy dat dit nie net jy is wat probleme het nie? Weet jy dat ek ook probleme het? Nee, want jy is so diep in jou eie probleme vasgevang dat ek soms, nee, dikwels nie eens vir jou bestaan nie…”

“Moira, asseblief!”

Die stilte hang vir 'n paar sekondes om hulle. En dan kom haar stem so sag dat hy dit skaars kan hoor.

“Ek verwag 'n kind, Chris. Jóú kind. Ek is al twee maande swanger.”

Dit is die verhaal van Chris de Vries. Hy word gediagnoseer met terminale kanker en slegs nege maande tyd gegun om te lewe. En dan ontmoet hy 'n vrou. Moira. Sy stryd word meer as net 'n stryd teen die dood. Dit word 'n stryd tussen hom en sy Skepper as die ankers van sy lewe een na die ander van hom weggeneem word…

Kolos - Izak A Coetzee

Kimmings gryp die bondels note en druk dit in die sak. Te stadig. Dan skraap hy die geld en diamante met sy arm in die sloop in. Niks bly oor nie. Die sloop staan bol en groen note peul bo uit. Hy trap dit met sy voet dieper in die sloop vas. 'n Masjiengeweer stotter binne in die huis se sitkamer, dan 'n handgranaat en nog een wat op die dak ontplof. Hy bondel die sloop se bek in sy een hand en sleep-dra die sloop tot by die deur van die studeerkamer. Deur die venster sien hy die helikopter. Dit is helder verlig. Hy moet wegkom. Hy ruk die buitedeur oop en koeëls slaan naby hom teen die muur vas. Iemand skiet uit die enkelkwartiere. Die vlamme van die huis en buitegeboue verlig die helikopter, maar tussen hom en die helikopter lê 'n oop stuk aarde en agter hom is Elim en sy manne met masjiengewere…

Interpol-agent en jagter van dwelmsmouse, Elim de Loorn, kry opdrag om 'n nes van die dwelmbaron, Guthbert Kimmings, in die Lebomboberge te gaan uitwis en Kimmings aan te keer. Maar Kimmings is uitgeslape en Elim kom net-net met sy lewe daarvan af.

30 Uur van haat - Izak A Coetzee


Brink begin klim teen die berg uit. Die voetpad is dof voor hom. Nou gaan dit stadiger, maar hy klim sonder moeite tot by die groot rotse teen die hang voordat hy vir die eerste maal rus. Onder hom lê die plaashuis, donker, en die dak blink dof in die sterre se lig. Die skuur naby die huis… Dan ruk hy regop en kyk stip na die skuur. 'n Lig naby die skuur stuur 'n koue rilling deur sy liggaam. Die lig word groter en meteens besef hy dat dit 'n vlam is.

Die skuur…! Vinnig begin hy teen die steilte af beweeg. Al sy lusern en bone en plaasgereedskap is in die skuur. Al sy arbeid lê tussen die vier mure wat nou deur vlamme bedreig word. En Ramon is alleen in die huis…! 

Brink Schutte word deur twee van sy oorlogsmakkers verdink van verraad. Hy onttrek hom na die oorlog feitlik van die samelewing en wil sy dae op sy plaas in vrede deurbring. Maar Kurt en Madelein spoor hom op en hulle haat is verterend…

Doodskontrak - Izak A Coetzee

PRIMORDIALE GODE
Volgens die Sumeriese mitologie het wesens van 'n planeet aan die rand van ons sonnestelsel die aarde ongeveer 500 000 jaar gelede beset op soek na goud om hul planeet, Nibiru, te beskerm teen radioaktiewe straling. Die heerser van Nibiru was Anu. Sy drie seuns, Enlil, Enki en Ea (Halfbroers) is in beheer van die aarde geplaas. Die ontginning van goud uit die aardkors was uitmergelend en die wesens het besluit om skepsels uit die aardlinge, Homo Erectus, te skep om in hul myne te werk. Die mens het uit kruisings tussen die Nibiruane en aardlinge voortgespruit. Enki was die bio-ingenieur van die skeppingsproses. Die Nibiruane het gode vir die menseras geword. Enlil was egter gekant teen die onbeheerde aanwas van die mensdom en het die uitwissing van die mens beplan. Hy bring droogtes en hongersnood oor die mensdom, maar kon hulle nie uitwis nie. Enki het sy halfbroer se planne gefnuik deur een van die mense, Noag (Ut Napisjtum), die geheime van besproeiing, graansuiers en medikasie te leer. Enlil het oplaas die hele Raad van Gode bymekaar geroep en hulle meegedeel dat hy die mensdom met 'n ongekende Vloed sal uitwis. Enki het weer sy halfbroer se planne gefnuik deur aan die mure van die stad van Noag te vertel hoe Noag die Ark moes bou om te kon oorleef. Na die Vloed land die Ark op 'n berg en bring Noag offers aan Enki en Ea. Enlil was buite homself van woede en wou die geselskap van Noag vernietig. Enki het by hom gepleit om Noag en sy gesin te spaar en beloof om toe te sien dat die mensdom hulle aanwas sal beperk en die aarde sal beskerm Enlil het Enki se aanbod aanvaar, maar reik daarteenoor 'n dekreet uit, sy doodskontrak, dat hy die mensdom sal vernietig as hulle die kontrak met die gode sou verbreek. Die mensdom hét die kontrak verbreek en Enlil se wraaktog  is verwoestend.

Saturday, November 5, 2011

Dis Mos Kos - Joey Pienaar

Joey Pienaar van 'Knuppeldik aan Koningskos' en 'Watertand Wenners'- faam en samesteller van nog twee ander resepteboeke, het in Suid-Afrika 'n huishoudelike naam vir almal en oral geword. Plaaslik, en tot in die buiteland, word sy tereg in die media as 'Meesterbakster', 'Koskampioen', en 'Koningin van Resepte' beskryf.
Dit is noemenswaardig dat honderde duisende van genoemde resepteboeke met 'beproefde staatmakers' tydens verdienstelike fondsinsamelings, reeds die kombuise van kosliefhebbers bereik het en steeds van krag tot krag gaan.
Dis Mos Kos is 'n praguitgawe wat die kroon span oor Joey se jarelange passie om unieke en eg Suid-Afrikaanse, asook beproefde treffers wat maklik deur ieder en elk gemaak kan word, vir kosmakers aan te bied.
Dis Mos Kos is 'n geskenkpak spesiaal vir jou, maar ook 'n ideale geskenk vir 'n gewaardeerde vriendin of familielid asook tydens verjaardae, troues, Kersfees, Moedersdag en enige ander geleentheid.
Joey se kosloopbaan het reeds as 12-jarige in haar ouerhuis begin. Nadat sy vir drie agtereenvolgende jare al die pryse vir gebak van die Vroue Landbou Unie (VLU) by die Pretoria Skou verower het, bekwaam sy haar in 1983 as beoordelaar. Ook op dié vlak druk sy steeds haar stempel van kundigheid met liefde af. Haar hele lewe getuig van offervaardigheid en diens aan die gemeenskap. Waar sy ookal leiding neem, maak sy 'n verskil. Sy was vir drie jaar die voorsitter van die Pretoria Polisie Offisiersvroueklub asook in bestuursposte van verskeie ander organisasies, onder andere die VLU-tak te Modimolle waar sy saam met haar man, Hennie, ('n afgetrede brigadier van die SAPD) 'n formidabile span uitmaak. Die egpaar se trots is hul vier kinders en nege kleinkinders.
In 2010 het die eer haar te beurt geval om as die VLU-Noord se Skrywer van die Jaar aangewys te word 'n sprekende bewys van wat ons in Dis Mos Kos kan verwag.
Saam met die Christelike aanhalings en lewenswaarhede op elke bladsy, gaan hierdie resepteboek voorwaar 'n fees wees en 'n juweel in elke kombuis.