Tuesday, July 5, 2011

Die ewigheid en jy! - Ds Danie Steyn


In hierdie publikasie: "Die ewigheid en jy!" van ds Danie Steyn vind ons 'n aantal boodskappe wat met groot erns en dringendheid by die leser pleit om homself algeheel, vrywillig en onvoorwaardelik aan die Here Jesus Christus oor te gee en só te lewe dat ander dit in my lewe kan sien. Hier is geen plek vir 'n kompromis nie. God vra alles of niks!

Wat hier op skrif gestel word kom nie uit sy eie ervaring nie, maar steeds geanker aan dit wat die woord van God ons leer.

By Danie Steyn is daar net dié passie: Die eer van God moet gehandhaaf word. Mense moet gered word van die skuld, straf en heerskappy van die sonde. Vir dié wat aan God gehoorsaam is, wag daar die ewige geluksaligheid. Vir dié wat aan God ongehoorsaam is, wag daar die toorn van die lewende God in die ewige duisternis.

Wanneer ds Steyn sterk oorkom, byna in die styl van die profete van ouds, dan is dit omdat sy hele aard sterk aansluiting vind by die woorde van Openbaring 3:15,16: "As julle tog maar koud of warm was! Maar nou omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg." Iemand wat gered is, moet óf aan die brand wees vir die saak van die Here óf twyfel aan die egtheid van bekering.

Die wat gered wil word, moenie uitstel totdat dit te laat is om gered te word nie. God se genadetyd gaan verby!

Die boodskappe in hierdie werk, bind jou van begin tot end. Ek wil hierdie pennevrug van harte aanbeveel.

Dr Willie Marais

No comments:

Post a Comment